Graag wil ‘n mens goeie nuus rapporteer maar ongelukkig moet daar weer gewaarsku word teen nog ‘n probleem wat ons honde ernstig affekteer. Katgriep is weer in die omloop en word gewoonlik erger in die somers weer.

Katgriep is ‘n hoogs aansteeklike virus wat honde (veral onder 6maande) aantas. Parvovirus is uiters aggressief en tas die maagdermkanaal aan, veroorsaak braking en ‘n bloederige diarree wat lei tot ontwatering, hipotermie, toksemie en uiteindelik die dood. Hele werpsels kan uitgewis word. Behandeling is duur en slegs ondersteunend aangesien niks die virus self kan dood maak binne die liggaam nie. Baie honde oorleef met behandeling maar ongelukkig nie almal nie – sekere honderasse (soos Rottweilers en Dobermans o.a.) is besonders vatbaar en honde wat geen entings gehad het nie is beslis dié wat die swakste kanse vir oorlewing het. Parvo virus besmet ook die omgewing; ‘n besmette erf bly vir baie jare besmet. Katgriep vat omtrent 7-10dae na blootstelling voor die diertjies siek word. As u dus ‘n siek hondjie het kyk terug waar hy 7-10 dae terug was; dit gee ‘n mens ‘n goeie idee hoe/waar die hondjie katgriep gekry het.

Die antwoord lê hoofsaaklik in voorkoming van die siekte:

  • Wees versigtig waar u hondjies koop; maak seker dat daar GEEN geskiedenis van katgriep is nie.
  • Verkopers wat handel of ‘smous’ in kleinhondjies dra ‘n hoe risiko weens die hoë omset van diere en die verhoogde risiko van blootstelling.
  • Indien u uit goedheid hondjies optel om hulle te help of te red is daar ‘n werklike risiko vir u honde by die huis. Baie kere word die nuweling eers na ‘n paar dae in sy nuwe huis siek; teen daardie tyd is die huis se ou inwoners blootgestel aan die virus.
  • Enting speel die grootste rol in voorkoming.
  • Groot honde moet jaarliks geent word.
  • Teeltewe moet jaarliks geent word om immuniteit aan hulle babahondjies deur hulle bies oor te dra aan die kleinhonjies wat hulle vir die eerste 4-6 weke van hulle lewe beskerm. Die enting moet verkieslik buite die dragtigheid gegee word.
  • Kleinhondjies moet tenminste een keer geent wees voor aankoop, verkieslik deur ‘n veearts en verkieslike reeds op 6 weke ouderdom en verkieslik tenminste een week voor aankoop. Eerste entings later as 6 weke open jou venster vir vatbaarheid.
  • Enige entstof vat ‘n tyd om te werk d.w.s. honde wat vandag geent is, is nie more al immuun nie. Katgriep se inkubasieperiode is 7-10dae. As hondjies vandag geent word maar reeds blootgestel is of binne ‘n dag of drie by die nuwe eienaar blootgestel word, gaan hulle waarskynlik siek word omdat die entstof nog nie “ingeskop” het nie.
  • Indien u al katgriep op u erf gehad het behoort kleinhondjies wat u verkoop reeds op 4 weke ‘n additionele enting te ontvang.
  • Indien u ‘n babahondjie na ‘n besmette erf bring moet die hondjie tenminste twee maar verkieslik drie entings reeds ontvangs het en eers een week na die laaste enting op die bemette erf te kom
  • “Die hondjie het al sy entings gehad” beteken gewoonlik dat die diertjie een enting ontvang het voor verkoop. Kopers besef nie altyd dat skraagdossisse noodsaaklik is; raadpleeg asb u veearts om die regte inligting te kry wanneer u die hondjie koop, nie eers wanneer hy/sy reeds siek is nie.
  • Die omgewing en mense moet ontsmet word indien daar blootstelling was; raadpleeg asb u veearts aangesien nie alle skoonmaakmiddels effektief is teen Parvo virus nie.

Hierdie siekte is ‘n baie wreede een en ons is in Parys is beslis nog nie naby daaraan om dit onder beheer te kry nie; elkeen van ons wat sy honde ent kan sodoende ‘n waardevolle bydrag lewer om die siekte te beveg.